Welcome to my blog!

Here you will find lots of truth, opinion and emotion which I express through writing. I hope you enjoy reading my pieces!

(Please note that nothing is edited, so there might be mistakes when it comes to grammar.)


Monday 11 July 2011

Mensvreters en Engele

Rustig sit ons en boekies lees, ek en sy. Haar pof handjies blaai die blaaie een vir een saam met my. Uit die rympieboek van Antjie Krog lees ek hardop vir 'n dogtertjie wat glo in feetjies en goggomandertjies. Wat sy hoor en wat ek hoor is vanuit twee verkillende wêrelde.

Kom ons by die rympie van 'n mensvreter, vra ek vir haar, "Dink jy mens kry mensvreters?""Ja, velsekel!" antwoord sy oortuigend."Hoekom dink jy so?" vra ek."Kyk, hiel is hy dan in die boekie. Gloooot en stelk! En hy eet kindels heel op!"Die realiteit van hierdie mensvreter maak haar bang. Ongelooflik hoe ek self geleer het dat mensvreters en goggomandertjies nie bestaan nie - vir haar is hy net in die kamer langsaan.

"Mensvreters bestaan nie regtig nie," sê ek vir haar, baie oortuigend en belowend. "Maar weet jy wat bestaan wel regtig? Groooot en sterk engele! Jesus het vir almal wat bestaan 'n engel gegee om hom op te pas. Op te pas teen mensvreters." Sy kyk my aan met groot ogies en sê, "Waal is hulle dan?""Hier by jou! Jou ogies kan hulle net nie raaksien nie.""O!" sê sy.

Sy kyk rond, ten spyte van wat ek gesê het."Ons kan bid en vir Jesus vra om vir jou baie groot engele te stuur om jou op te pas. Sy grootstes en mooistes. Het jy geweet Jesus kan ALLES doen?""Ja!" antwoord sy, maar haar gesigsuitdrukking wys dat sy nog nie weet of sy dit glo nie.

Sy maak haar ogies styf toe, maar loer terselfde tyd vir my. Ek bid 'n eenvoudige gebed. "Jesus, stuur asseblief U grootste en mooiste en sterkste engele om haar op te pas, sodat mensvreters haar nie kan vang en heel kan opvreet nie. Dankie dat ons weet U kan ALLES doen! Amen."Sy maak haar ogies oop en sê opgewonde: "Kan ons nou vir Cara ook bid vir groot en sterk engele? En vir Emma! En vir Ané en Teddie en Uil en Hasie en Albert en Hestertjie?"

Sy weet dat Jesus ALLES kan doen!Ons het gebid vir al die poppe en diertjies en teddiebere in die kamer, sodat die mensvreters hulle ook nie kan vang nie- of hulle 'mense' is of nie.

by Letitia Claassen on Sunday, July 5, 2009 at 7:50am

No comments:

Post a Comment